DIE JAARLIKSE BELLINGHAM BERNARD PODLASHUK SHIRAZ TROFEE EN PRYS VIER SY 5DE JAARSDAG

Dit is tyd vir alle Shiraz-produsente om voor te berei en hul voorstelle in te dien vir die 2026-ronde van die Bellingham Bernard Podlashuk Shiraz Trofee en Prys.

Die kriteria vir hierdie kompetisie het oor die afgelope vier jaar dieselfde gebly en volgens die paneel was daar ’n beduidende toename, nie net in die aantal inskrywings nie, maar ook in die vlak van kwaliteit van die aanbiedings wat sedert die aanvang van hierdie uitdaging ingedien is.

Produsente wat fokus op volhoubaarheid, uitnemendheid, innovasie, kreatiwiteit en sosiale verantwoordelikheid, word weer uitgenooi om hul strategieë en praktyke vir evaluasie in te dien.

Benewens ’n pragtige trofee wat ’n prominente plek in jou proeflokaal sal inneem, is daar ook ’n aantreklike kontantprys van R30 000 om te wen.

Die kompetisie, vernoem na Bernard Podlashuk, wye beskou as die vader van Suid-Afrikaanse Shiraz, het wenners soos Saronsberg voortgebring. Creation en Jordan Wines saam met Journey’s End wat die eer in 2025 wegdra.

Francois Haasbroek, lid van Shiraz SA se bestuurspan, tree as voorsitter van die ervare paneel van beoordelaars en word bygestaan deur Dr Etienne Terblanche van Vinpro, Prof Jako Volschenk van Stellenbosch Universiteit se besigheidsskool en Gerard Martin, uitvoerende bestuurder: Navorsing, Ontwikkeling en Innovasie by South Africa Wine.

Daar is geen fooi om deel te neem nie, en die vraelys kan aanlyn voltooi word by www.ShirazSA.co.za

Die sperdatum vir inskrywings is Vrydag 3 Julie 2026 en die drie finaliste sal op Maandag 27 Julie 2026 aangekondig word. Die wenner sal bekend gemaak word tydens die Shiraz Challenge-toekenningsfunksie op Donderdag 6 Augustus 2026.