As innovasie jou kelder se hart volhoubaar laat klop, staan jy as Shiraz-produsent ‘n kans om vanjaar die gesogte Bellingham Bernard Podlashuk-trofee en -prys in te palm.
Shiraz SA het dié toekenning in 2022 as deel van hul jaarlikse Shiraz Challenge ingestel. Bellinghamwyne borg die Bernard Podlashuk-trofee, wat na die Vader van Suid-Afrikaanse Shiraz vernoem is, en ‘n kontantprys van R30 000 insluit.
Saronsberg was die eerste ontvanger van hierdie manjifieke trofee, wat in Augustus 2022 by die Shiraz Challenge-toekenningsfunksie aan Dewaldt Heyns oorhandig is. Die kriteria vir die eerste rondte was die beste algehele prestasie deur ‘n produsent oor die eerste tien jaar van die Shiraz Challenge.
Vanjaar gooi Shiraz SA die net wyer deur alle produsente, ongeag of hul lid is van Shiraz SA of nie, te nooi om mee te ding. Shiraz SA se komitee het nuwe kriteria geïdentifiseer, wat deur Andrew Harris, DGB Bemarking en Verkope Bellingham Wyne, ondersteun word.
“Die kriteria vir die toekoms is ‘uitnemendheid, innovasie, kreatiwiteit, volhoubaarheid en sosiale verantwoordelikheid’,” sê Edmund Terblanche, Voorsitter van Shiraz SA. “Hierdie konsepte oorvleuel in vele opsigte en kan daarom nie as losstaande van mekaar oorweeg kan word nie.”
“Deelnemers se prestasie en vermoë sal gemeet word aan die hand van navorsing oor volhoubaarheid-georiënteerde innovasie, wat fokus op hoe produkte, prosesse en praktyke ingespan word om sosiale, omgewings- en ekonomiese waarde te skep en te verwesenlik.”
Volgens Terblance bou innoverende organisasies vaardighede wat markgeleenthede aanmoedig, mense leer om veranderinge in besigheidsomgewings beter te begryp, en help om nuwe oplossings, intern asook in samewerking met vennote, te skep: “Suksesvolle innovasie behels dus ‘n dinamiese vermoë om organisatoriese vaardighede, hulpbronne en funksionele vaardighede aan te pas, te integreer en te herbou om uitdagings rondom volhoubaarheid aan te spreek.”
“Die toekenning van die Bellingham Shiraz-trofee en -prys sal dus meer behels as net ‘n gewone kompetisie,” sê Terblanche. “Dit sal eerder ‘n akademiese sending wees, gebaseer op jare se bewese navorsing, en ons sien uit na hierdie resultate wat die voortdurende prestasievermoë van Shirazprodusente sal onderskryf.”
Produsente kan inskryf deur die inskrywingsvorm en ‘n vraelys te voltooi. Die sperdatum vir inskrywings is Vrydag 15 Julie 2023. ‘n Paneel sal onderhoude met drie finaliste voer. Die wenner sal by die Shiraz Challenge-toekenningsfunksie op Donderdag 17 Augustus 2023, aangekondig word.
Vir meer inligting en om in te skryf, besoek www.ShirazSA.co.za. Volg Shiraz SA op Twitter @Shiraz SA, Facebook @ShirazSouthAfrica, en Instagram @shirazsouthafrica en gesels saam met #ShirazSAAwards.