As jou kelder se hart vir volhoubaarheid op die regte plek sit, staan jy as Shiraz-produsent ‘n kans om vanjaar die gesogte Bellingham Bernard Podlashuk-trofee en -prys in te palm. Bellingham-wyne borg die toekenning wat ‘n kontantprys van R30 000 insluit.
Shiraz SA het die trofee, wat na die Vader van Suid-Afrikaanse Shiraz vernoem is, in 2022 as deel van hul jaarlikse Shiraz SA Challenge ingestel. Saronsberg was in 2022 die eerste ontvanger vir die beste algehele prestasie deur ‘n produsent oor die eerste tien jaar van die Shiraz SA Challenge.
Die toekenning se toekomstige kriteria is in 2023 in samewerking met Andrew Harris van Bellingham vasgestel as “volhoubaarheid, uitnemendheid, innovering, kreatiwiteit en sosiale verantwoordelikheid”. Creation Wines is in 2023 as die tweede wenner bekroon.
KRITERIA EN INSKRYWINGS
Alle Shiraz-produsente word aangemoedig om in te skryf vir die 2024-rondte van die Bellingham Bernard Podlashuk-toekenning. Die 2024-vraelys is aangepas om die inskrywingsproses te vergemaklik en dit vir meer produsente toeganklik te maak.
Volgens Edmund Terblanche, Voorsitter van Shiraz SA is die Bellingham Bernard Podlashuk-toekenning meer as net ‘n kompetisie. “Dit is ‘n maatstaf wat die voortdurende prestasievermoë van Shiraz-produsente onderskryf,” sê Terblanche. “Die beoordeling is gebaseer op navorsing oor volhoubaarheid-georiënteerde innovasie wat fokus op hoe produkte, prosesse en praktyke ingespan word om sosiale, omgewings- en ekonomiese waarde te skep en te verwesenlik.”
Produsente kan die inskrywingsvorm en vraelys aanlyn voltooi by www.ShirazSA.co.za. Die sperdatum vir inskrywings is Vrydag 12 Julie 2024. ‘n Paneel sal onderhoude met drie finaliste voer. Die wenner sal op Donderdag 15 Augustus 2024 by die Shiraz SA Challenge-toekenningsfunksie aangekondig word.
2024 SHIRAZ SA CHALLENGE
Inskrywings vir die 2024 Shiraz SA Challenge het reeds geopen en die sperdatum is Vrydag 21 Junie 2024. Laat-inskrywings sluit Vrydag 5 Julie 2024. Soos in die verlede sal 12 Shiraz-wyne, drie Shiraz-versnitte en een Shiraz-roséwyn as wenners aangewys word.
Vir meer inligting en om in te skryf, besoek www.ShirazSA.co.za. Volg Shiraz SA op Twitter @Shiraz SA, Facebook @ShirazSouthAfrica, en Instagram @shirazsouthafrica en gesels saam met #ShirazSAAwards.